Ons Storie


Alles begin op 25 Jan'24 toe Kobus vir Lenaye vra om bietjie spontaan te wees en haar nommer vir hom op Facebook te gee…


Nee nee, wag — kom ons gaan gou verder terug.


Alles begin eintlik by daardie 2–3 keer ’n week se braaie by Johannastaat 13, by die bruid se suster, Romare se huis. Musiek wat speel terwyl Lenaye slaap… of ten minste probeer slaap. Vir weke was sy deurmekaar of die bruidegom se naam nou eintelik Pieter, Johan, Giel of Kobus is!


Toe kom daardie aand wat sy saam braai, en Kobus nooi haar na die dorp se plaaslike golfclub vir Valentynsete. Dit was nog niks meer as net ’n gewone vriendskap nie. Maar soos die aand ontvou, was daar skielik ’n tekort aan pizza-braaiers… en Kobus bak sommer 70 pizzas om hul goeie vriendin Em-ja (ook een van die strooimeisies) uit te help.


Na ’n lang aand was Kobus moeg — maar hy vat toe nog vir Lenaye om die dorp se liggies te gaan kyk op hul mees geliefde berg, Koelkop.


Van daar af kuier die tweetjies oor en weer — by Lenaye se ouers, by Kobus se ma. Alles verloop natuurlik en mooi. Die nou huidige skoonouers hou sommer baie van mekaar se kinders.


Agt maande later, op ’n warm somersdag langs die strand in Brandsebaai, sit Lenaye in haar goudgeel rokkie en eet sushi toe Kobus haar vra om sy meisie te wees.


Die volgende jaar en vier maande is hulle onafskeidbaar en dolverlief. Baie gebeur in daardie tyd — hulle kry saam ’n hondjie, Nala, koop hul eerste huis, en raak verloof… weer op Valentynsdag, hierdie keer op ’n ander koppie in die wildskamp, tussen die springbokke.


Lenaye huiwer nie eers om “ja” te sê vir haar toekomstige man nie en al wat sy uitkry is n “natuurlik”


En nou, tien maande later, is hulle gereed om hul lewensverhaal saam te begin skryf — ’n storie sonder einde. 🤍✨